Hallo Riana,
‘n Engel het haarself kom
tuis maak in ons huis.
Na amper vier jaar in die
vreemde, het ons ‘n huis gekoop. Die een slaapkamer-woonstel het net te klein
geraak en met ‘n virus en ‘n wêreld wat halfpad mal geraak het, het ons vir
twee jaar ‘n werksruimte gedeel wat maar die eet- en sitkamer en nog ‘n deel
van die kombuis behels het. Met die onsekerheid oor toekomsplanne, visum
uitdagings en nog vele meer het ons besluit om ophou huur te betaal en eerder
in ‘n huis te belê.
Ons dink ons kyk nog na
huise en toe ons ons weer kry, besit ons ‘n huis. ‘n Splinternuwe huis wat nog
gebou moet word. Maar in Amerika is alles mos anders. Behalwe dat huise meer
aan vuurhoutjies-geboue herinner is die proses van huis koop ook ‘n leerskool
op sy eie met oneindige veranderlikes, keuses, en dies meer. Maar dit is ‘n storie
vir ‘n ander dag.
Ons besoek ons huis elke
naweek, wat aanvanklik maar net ‘n stuk veld is binne ‘n kompleks met huise in
verskillende fases – sommiges al reeds bewoon terwyl ander in aanbou is. Dit
laat my dink aan ‘n produksielyn, waar spanne spesialiseer in een spesifieke
deel van ‘n huis – die houtraam, dak, verf en so voorts. En wanneer die
voordeursleutel oorhandig word, is die skoonmaakspan ook al ‘n keer of twee
deur die huis.
Met ons weeklikse besoekke
om die vordering dop te hou vat ek op ‘n keer ‘n filtpen saam en “seën die huis
in”, soos Johann dit stel. In die taal van my hart skryf ek seënbede en
Bybelverse oral teen die mure en deurkosyne, op die kombuis se werksoppervlakke
en aan die buitemure, terwyl ek bid en hier en daar.’n
kruis trek. Nie net vir ons en die huis nie, maar ook vir die bouspanne en vir
almal wat die huis betree. Bokant die voordeur onder die verf, staan een van my
gunsteling verse -Joshua 24:15 “Ek en my huis, ons sal die Here dien”. Op die
buite pilaar, voor die sierstene vasgemessel is, ons name en die datum. Ek will
glo die werkers, meestal uit Sentraal- en Suid-Amerika en grootendeels net
Spaans magtig, tog ook die boodskap sou kry.
Hier in Texas is ‘n groot
Suid-Afrikaanse gemeenskap – ek verbeel my iemand het iewerste iets genoem van
vier duisend gesinne. Ons is betrokke by die Afrikaansekerk, wat eenmaal ‘n
maand bymekaar kom en na die diens eet en kuier ons saam. Die Saterdagoggend-bybelstudiegroep
kon, danksy tegnologie, voortgaan gedurende die grendeltydperk wat ook ‘n
geleenthede geskep het vir dames buite Houston om aan te sluit, en so ontmoet
ek vir Anita Felix. Terloops, haar katte kuier ook gereeld saam op Saterdae,
soms in volle lywe, ander keer net ‘n stert voor die skerm. Op ‘n slag besluit
die een hy gaan die gordyn opklim met Anita salig onbewus van wat agter haar
aangaan tot die kat na benede val!
Ons was geseënd dat die
vrouekamp, na dit ‘n paar keer uitgestel is, uiteindelik in September kon
plaasvind waar Anita ‘n paar van haar skilderye uitgestal het. Sy skilder die
mooiste ballet tutus, rokke en abstrakte natuurtonele. En dan is daar die
engele! Wat my fasineer is die vlerke. My gunsteling is die punterige, opwaarts,
met ‘n effense ronding vlerk. Die kleure is meestal sag en neutraal met hier en
daar ‘n verrassing, soos ‘n goue hartjie of ‘n bossie blomme.
Maar wat merkwaardig is, is
dat Anita deurentyd bid vir die persoon wat daardie spesifieke skildery gaan besit
terwyl sy besig is om die engel te verf. Met haar uitstallings in die VSA en
Suid-Afrika asook bestellings wat deur die hele Amerika gestuur word, kan ek
maar net raai hoeveel mense nie al deur haar gebede geraak is nie. Wat ‘n
wonderlike storie en voorbeeld!
My Engel, klein genoeg om saam te gaan na ons volgende huis, staan in die voorportaal om ons en ander welkom te heet. Maar meer belangrik, om ons altyd te herinner dat "Hy sal sy engele opdrag gee om ons te beskerm waar ook al ons gaan" (Psalm 91:11, aangepas).
En so gebeur dit dat daar
nou ook ‘n Engel in my huis is.
Liefde groete en oneindige
seën vir die nuwe jaar.
Jovita
* ‘n Engel in my huis, deur Riana Scheepers